Kom Loer In!

 Kom loer gerus in en ervaar die wonder van die hAp!

 

Welkom

kuier


 

huis vir afrikaanse poësie 
mense verskil, situasies verskil

Afrikaans bring ons bymekaar,

 laat my bestaan

 sy is my leeftaal, droomtaal, lagtaal

my huiltaal, bakleitaal, verskiltaal

my dinktaal, praattaal, leestaal, skryftaal

my mensweestaal

 besoek hAp en ontdek hoe

my moedertaal gister was,

vandag is

en met genoeg passie en liefde

more sal wees.

 

 

 

 



 

n Groot hAp vir Afrikaans!
hAp bestaan al sedert 2002 en het met poësievoorlesings begin in die voortuin van ’n huis in Malherbestraat, Capital Park, Pretoria. 

Eers was dit net die stoepteater en twee klein vertrekke waar kunsuitstallings gehou is. Later is die hele huis verbou om ’n binnenshuise teater (poësieteater) en veel ruimer kunsgalery te huisves (2004). Die poësieteater word vir poësievoorlesings, boekbekendstellings en funksies gebruik.

Sedert 2004 al kom ’n digtersgroep elke Saterdagmiddag, onder bevryding van Ian Raper, by hAp bymekaar. Verskeie werke is reeds deur groeplede gepubliseer, insluitende die eerste Afrikaanse e-bloemlesing Klikspringer en bundels van Rosa Smit, Lucie Möller, Gerda Fourie, Karlien van der Merwe, en Petro van der Westhuizen en Jaco Erasmus. Kursusse in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde is aangebied, met talle digtersfokusse om veral jong belangstellendes voor te stel aan ouer of minder bekende digters in Afrikaans. Daar was al ’n Van Wyk Louw-gedenklesing en hulde aan ander wat 100 sou geword het. Hiermee is ’n private department Afrikaans en Nederlands in die vooruitsig gestel as teenvoeter vir die sluiting en verwatering van sulke departemente by bepaalde universiteite.

In Julie 2005 is die Boekerij by hAp deur Mimi Coertse geopen, hoofsaaklik met die oog op die “huisvesting” van boekskenkings en redding van versamelings wat toenemend hulle weg na hAp gevind het. Vandag het die Boekerij ’n afdeling vir Afrikaanse, Nederlandse en Engelse letterkundige boeke, asook ’n afdeling vir boeke wat te koop is. 

In Oktober 2008 is die Mimi Coertse Museum van Afrikaans by hAp geopen. 

Gedurende 2009 is die hAp se Adviesraad op die been gebring om hAp by te staan met die bevordering van die literatuur in Afrikaans. Die eerste lede van die Adviesraad was ondermeer Mimi Coertse, dr Ian Raper, prof Marinus Wiechers, Charl Pretorius, regter Eberhardt Bertelsman, Andre Viljoen en  Johan de Beer.  

Gedurende Maart 2010 het hAp die eerste Digsange Afrikaanse Stemfees aangebied met Afrikaanse digters en sangers, onder wie Mimi Coertse, Nataniël, Steve Hofmeyr, Jannie Moolman, Petru Wessels, Carel Trichardt, Trevor Nasser, Henning Pieterse, Andries (Roof) Bezuidenhout, Die Black Tie Ensemble, Kabous Verwoed, René Bohnen, Gerda Botha, Karlien van der Merwe, Lucie Moller, Elrine-Louise, Rosa Smit, Gerrie Jamneck en Andre Viljoen. Die 2010 Oktoberprogram was ook ongelooflik. Amanda Strydom, Lochner de Kock, Piet van Wyk de Vries en Carina Stander was ’n paar van die mense wat opgetree het.

Gedurende Mei 2011 het hAp weens onvoldoende besigheidsregte en handels lisensies gesluit.    Die nodige aansoeke is by die Tshwane Stadsraad ingedien en  hAp het weer gedurende Junie 2011 geopen. 

hAp is ‘n private inisiatief en ontvang geen subsidies vir projekte.